|

ANC se plan om eiendom te steel plaas Suid-Afrika op Zimbabwe-pad

Die burgerregtewaghond AfriForum sê die ANC se besluit om Suid-Afrika se grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, kom neer op ’n besluit om diefstal te pleeg en die land op dieselfde vernietigingspad te plaas as wat deur Zimbabwe gevolg is met die ondermyning van eiendomsreg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is respek vir eiendomsreg ’n kernvereiste vir ’n suksesvolle ekonomie. “Lande wat eiendomsreg skend word gekenmerk deur werkloosheid, armoede en ekonomiese agteruitgang. Die ANC se besluit om eiendomsreg te skend, sal dus almal in die land benadeel, behalwe die klein groepie elite wat voordeel uit die ANC se diefstalplan sal trek,” sê Kriel.

Kriel wys daarop dat die ANC se plan om eiendomsreg te skend, ’n verdere aanduiding is dat die ANC nie die ooreenkomste wat tydens die onderhandelde oorgang van 1994 bereik is, as bindend beskou nie. “Minderhede en ander wat gaan deurloop onder die ANC se verbreking van die 1994-ooreenkoms, kan dus nie hulle hoop op enige ANC-leier plaas nie en sal self stappe moet neem om na hulle eie belange en eiendom om te sien,” voeg Kriel by.

Die ANC se diefstalplan sal volgens Kriel nie net die ekonomie vernietig nie, maar sal Suid-Afrika ook op ’n pad van hernieude wrywing en konflik plaas. “AfriForum, sy lede en ander wat ook hard gewerk het vir wat hulle het, sal nie net terugsit en toekyk hoe hulle eiendom gesteel word nie,” sê Kriel.

Similar Posts