Onteieningswetsontwerp

Die ANC se poging om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak deur die Grondwet te wysig, het verlede jaar in die parlement misluk. Die ANC hou egter vol dat hulle onteiening sonder vergoeding (wat op niks anders as diefstal van eiendom deur die staat neerkom nie) gaan verwerklik, dié terugslag ten spyt. Die geveg vir privaat eiendom in Suid-Afrika is dus nog lank nie verby nie.

Een van die alternatiewe wyses wat die ANC wil gebruik om grond sonder vergoeding te kan onteien, is deur die Onteieningswetsontwerp B 23-2020, wat in Oktober 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit is sedertdien as deel van die parlementêre proses ingestel. Volgens dié wetsontwerp word onteiening gedefinieer as “verpligte verkryging van eiendom deur ’n onteieningsowerheid”, wat beteken enige staatsliggaam of ‑departement mag privaat eiendom onteien. Die wetsontwerp maak die onteiening van enige “eiendom” moontlik en is dus nie tot grond beperk nie, maar sluit sowel alle roerende eiendom (byvoorbeeld jou besittings) as onroerende eiendom (byvoorbeeld jou gebou, huis en infrastruktuur) in. Hierdie wetsontwerp vloei nie voort uit die proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie; dit poog om ’n nuwe weg te baan vir die regering om privaat eiendom binne die huidige raamwerk van artikel 25 van die Grondwet te onteien.

AfriForum het in 2021 skriftelike kommentaar teen die Onteieningswetsontwerp by die portefeuljekomitee vir openbare werke en infrastruktuur ingedien, asook ’n mondelingse voorlegging daarteen gedoen.

Op 14 September 2022 gaan die portefeuljekomitee oor die Onteieningswetsontwerp stem. Maak jou stem teen hierdie wetsontwerp saam met AfriForum dik, want dit bedreig privaateiendomsreg. Vul asseblief die vorm in sodat AfriForum ’n brief namens jou aan die portefeuljekomitee kan stuur. 

Similar Posts