|

AfriForum loods internasionale versoekskrif teen eiendomsregbedreiging in Suid-Afrika

Die burgerregte-organisasie AfriForum loods vandag ’n webtuiste waar lede van die publiek ’n versoekskrif wat ten doel het om regerings en buitelandse beleggers aan te moedig om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om nie met onteiening sonder vergoeding voort te gaan nie, kan ondersteun.
Hierdie aksie spruit uit die onlangse goedkeuring van ’n mosie in die parlement wat ’n proses begin het om die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding te bewerkstellig.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat ’n memorandum aan die internasionale samelewing gerig sal word waarin buitelandse beleggers gewaarsku word dat hul beleggings in Suid-Afrika nie veilig is nie.

“Ten einde die omvang van die krisis te illustreer, moedig ons die publiek aan om hulle name by die versoekskrif te voeg en hul vriende, familie en kollegas aan te raai om dit ook te doen.”

Roets verduidelik dat die mosie om grond sonder vergoeding te onteien op ’n verdraaiing van die verlede geskoei is en dat dit ’n toepassing is van ideologiese beginsels wat wêreldwyd tot depressie, armoede en hongersnood gelei het.

“Die hoeksteen van ekonomiese groei is eiendomsreg. Daar is baie beter maniere om ekonomiese groei in Suid-Afrika te bevorder. Net so is daar meer doeltreffende maniere om toe te sien dat swart mense meer grond besit – in soverre as wat daar ’n behoefte daaraan is.”

Roets voeg by dat AfriForum daarvan bewus is dat hierdie versoekskrif ’n drastiese stap is, maar dat dit ’n noodsaaklike laaste uitweg is om te verhoed dat die Suid-Afrikaanse regering die land se ekonomie – deur eiendomsregmiskenning – tot nadeel van almal in die land vernietig.
Onderteken die versoekskrif by www.onteiening.co.za.

Similar Posts