|

Blootgelegde onteieningslys: AfriForum, TLU SA en Sakeliga gaan gesamentlike regstrategie ter beskerming van eiendomsreg ontwikkel

AfriForum, die landbou-unie TLU SA en die sake-organisasie Sakeliga het besluit om kragte saam te snoer en ’n gesamentlike regstrategie te ontwikkel om die regering se voorgenome planne om eiendom sonder vergoeding te onteien, teen te staan.

Dié besluit volg nadat ’n interne besprekingsdokument van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DRDLR), wat ’n lys bevat van eiendomme wat vir onteiening geoormerk word, deur ’n betroubare bron aan AfriForum verskaf is. Die onthulling van die lys is voorafgegaan deur bevestigings deur sowel Zizi Kodwa, hoof van die presidensie, as ander lede van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) dat die DRDLR oor ’n onteieningslys van 139 eiendomme beskik. Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het ook aangedui dat haar departement reeds grond vir onteiening geïdentifiseer het, maar dat sy die lys nie gaan openbaar nie, aangesien dit as waarskuwing vir benadeelde eienaars sou dien en dié eienaars die geleentheid sou gee om op regsaksie voor te berei. Die blootlegging van die lys volg ook op president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy en die ANC die Grondwet wil wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Na aanleiding van bevestigings deur ANC NUK-lede en die minister stem al drie organisasies saam dat ’n onteieningslys wel bestaan. Die Instituut vir Rasseverhouding se bevinding dat die lys geloofwaardig is en die feit dat die meerderheid eiendomme op die lys aan die departement se beskrywing voldoen van watter kategorieë eiendomme geteiken gaan word, is genoegsame redes om die onteieningslys met erns te beskou en nie bloot af te maak nie.

AfriForum, TLU SA en Sakeliga het hul onderskeie lede en ander mense wie se eiendom op die lys verskyn, versoek om die organisasies te kontak en inligting te verskaf sodat die drie organisasies gesamentlik op ’n strategie kan besluit om diegene by te staan wat nadelig geraak word. Al drie organisasies het aangedui dat hulle reeds oorval is deur lede en ander mense wie se eiendom op die onteieningslys verskyn.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die bedreiging wat onteiening sonder vergoeding inhou van só ernstige aard dat verdeeldheid tussen die voorstanders van die beskerming van eiendomsreg nie bekostig kan word nie.

“Saam is ons sterker,” sê Kriel. Kriel dui ook aan dat ander voorstanders van die beskerming van eiendomsreg welkom is om by die organisasies se samewerkingsaksie aan te sluit. Volgens Kriel het AfriForum reeds gesprekke met leiersfigure gevoer wat deel is van AgriSA se provinsiale filiale, en dié leiers ondersteun AfriForum se openbaarmaking van die onteieningslys.

Louis Meintjes, president van TLU SA, sê dat eiendomsreg en vergoeding teen markwaarde die sleutel is tot ’n volhoubare ekonomie en ekonomiese groei.

“Hierdie twee beginsels mag nooit ter syde gestel word nie. Dié saak is groter as enige persoon of instansie. Saamstaan is die enigste werkbare sukses vir grondeienaars in Suid-Afrika.”

Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof, wys daarop dat die ANC kommerwekkende ooreenkomste met Zimbabwe se Zanu-PF begin toon:

“Of die blootgelegde lys die finale lys is al dan nie, is nie die kruks van die saak nie. Die feit is dat die ANC wél ’n lys het van plase wat die party met toetssake, onder die huidige Grondwet, wil onteien. Dit beteken dat die ANC, net soos ZANU-PF destyds in Zimbabwe, gaan probeer om beslaglegging op plase (’n fundamenteel ongrondwetlike daad) met prosedurele legitimiteit te beklee. As sakelui-, landbou- en burgerregte-organisasies is dit ons plig om – in almal se belang – die Zimbabwe-scenario te verhoed deur oor ’n breë front saam te werk.”

Similar Posts