|

AfriForum wil mondelinge voorlegging aan parlement maak oor onteiening sonder vergoeding

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n formele versoek ingedien om ’n mondelinge voorlegging te maak aan die parlementêre komitee wat met die hersiening van artikel 25 van die Grondwet gemoeid is.

In ’n skrywe aan Vincent Smith, die voorsitter van dié komitee, sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, dat AfriForum meer as 200 000 lede van die publiek as lede verteenwoordig, dat AfriForum se lede eiendom besit en dat hierdie lede besonders bekommerd is oor die regering se voorgenome planne om eiendom sonder vergoeding te onteien.

Roets sê dat AfriForum onteiening sonder vergoeding as ahistories beskou omdat dit op ’n verdraaiing van die verlede geskoei is; dat dit oneerlik is omdat dit op ’n bedrieglike staatsoudit steun; dat dit destruktief is omdat die beskerming van eiendomsreg die hoeksteen van ekonomiese groei is, terwyl eiendomsreg met hierdie proses geteiken word; dat dit rassisties is omdat dit ooglopend deur ’n onderliggende rassistiese motief gedryf word; en dat dit op diefstal sal neerkom indien eiendom van regmatige eienaars onteien word.

AfriForum het reeds aangekondig dat die organisasie dit oorweeg om regstappe te neem om die proses wat gevolg word om artikel 25 van die Grondwet te wysig weens prosedurele onreëlmatighede onbillik te verklaar. Die organisasie sal egter steeds aan die proses deelneem met die doel om belangrike feite op die tafel te plaas. AfriForum het ook reeds ’n memorandum oor onteiening sonder vergoeding en ’n petisie wat deur sowat 250 000 lede van die publiek ondersteun is per hand by die parlement ingedien. Die organisasie het ook te kenne gegee dat hy aan die openbaredeelnameproses in hierdie verband sal deelneem.

Similar Posts