|

Minister moet duidelikheid gee oor plaasonteieningslys

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n beroep gedoen op Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, om uitsluitsel te gee oor die lys van plase wat die departement vir onteiening sonder vergoeding sal teiken.

Dit volg nadat AfriForum gister ’n lys gepubliseer het wat tans onder die opskrif Expropriation Test Cases in dié departement gesirkuleer word. Die departement het gereageer deur te sê dat dit nie die korrekte lys is nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat dit duidelik is dat die departement ’n geheimhoudingstrategie volg en dat die departement dit in sy uitsprake duidelik maak dat daar kwaadwillige motiewe is. Roets verwys na Mashabane se uitspraak vroeër vanjaar dat die departement nie die eienaars van die geteikende plase daarvan in kennis wil stel nie omdat hulle nie wil hê dat dié eienaars op ’n regstrategie moet kan voorberei nie. ’n Woordvoerder van die departement het die minister egter weerspreek deur te sê dat die departement eers die eienaars van die geteikende plase in kennis wil stel. Dit het egter tot op hede nog nie gebeur nie.

Roets sê dat die onduidelikheid maklik uit die weg geruim kan word as die departement in die eerste plek verduidelik waarom hierdie lys, wat gister deur AfriForum gepubliseer is, in die departement gesirkuleer word; en tweedens deur die onderneming te gee dat geen van die gelyste eiendomme deur die departement geteiken sal word vir onteiening sonder vergoeding nie.

Intussen het AfriForum ’n beroep gedoen op almal wie se eiendom op hierdie lys voorkom om die organisasie op die webblad www.onteiening.co.za te kontak sodat ’n gesamentlike regstrategie voorberei kan word.

Die lys kan ook by www.onteiening.co.za gelees word.

Similar Posts