|

Vyf redes waarom AfriForum die plaaslys gepubliseer het

AfriForum het die afgelope naweek ’n lys gepubliseer wat binne die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DLOG) versprei word. Dit bevat ’n lys van 190 eiendomme (daar is 195 op die lys, maar vyf moet van die totaal afgetrek word om dubbele inskrywings uit te skakel) wat volgens die opskrif van die dokument as toetssake vir onteiening sal/moet dien.

Maite Nkoana-Mashabane, DLOG-minister, het vroeër vanjaar gesê dat haar departement reeds die eiendom geïdentifiseer het wat vir onteiening sonder vergoeding geteiken sal word. Sy het egter bygevoeg dat hulle die inligting van die publiek weerhou, omdat sy nie aan die grondeienaars wat geteiken sal word die geleentheid wil bied om vir regsaksie voor te berei nie. Sy het vol bravade gesê dat, indien dié mense weet dat hulle geteiken sal word, dit die lewe vir haar moeilik sal maak en dat dit beter is dat dié mense nie weet nie.

Intussen het die ANC ná ’n vergadering van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) te kenne gegee dat daar inderdaad ’n lys van eiendomme bestaan wat vir die doel van onteiening sonder vergoeding geteiken sal word. Volgens die ANC was daar 139 plase op die lys. Hier moet ek opmerk dat dit moontlik is dat hulle as ’t ware van 139 sake gepraat het, in plaas van 139 plase. Een saak kan verskeie plase insluit. Die totaal kan dus meer as 139 wees.

Sakeliga het die hof genader vir ’n bevel dat die inligting bekend gemaak moet word, waarop Mashile Mokono, hoof van die DLOG, gereageer het dat die proses vir onteiening sonder vergoeding streng vertroulik hanteer moet word. Woordvoerders van die DLOG het die minister weerspreek deur te sê dat hulle nie die lys bekend kan maak nie, omdat hulle die eienaars eers op individuele basis in kennis wil stel. Dit het egter nie gebeur nie.

Intussen het AfriForum ’n lys ontvang wat in die DLOG gesirkuleer word, met plase wat vir hierdie doel geoormerk word. Ons het verklaar dat ons nie weet wat die status van die dokument is nie, maar dat dit nodig is dat dié wie se eiendom geteiken word daarvan kennis neem. Ons kan bevestig dat die lys wel gesirkuleer word. Oor die status van die dokument (of dit ’n besprekingsdokument, ’n voorstel, ’n amptelike besluit, ensovoorts is) is ons onseker. Dit moet die DLOG bevestig.

Sedertdien het die IRV bevestig dat hul bronne ook aandui dat die dokument eg is en dat dit binne die departement gesirkuleer word. Daar is dus geen twyfel daaroor nie.

Die vraag kan gevra word wat die redes is waarom AfriForum die lys gepubliseer het. Hier is vyf redes:

  1. Breek die geheimhoudingstrategie

Die regering se strategie met betrekking tot onteiening berus daarop dat inligting van die publiek weerhou word. Hoe meer inligting hulle het wat van die publiek weerhou word, hoe sterker is die DLOG se posisie en hoe swakker is die grondeienaars se posisie. Deur die publisering van die lys kortwiek ons as ’t ware die regering se poging om inligting van die publiek te weerhou. Hoe meer inligting in die publieke diskoers is, hoe beter.

  1. Kommunikeer met die eienaars

Die publisering van die lys stel ons in staat om met die eienaars in verbinding te tree om hul inligting te verifieer en om hulle op hoogte te hou van enige verwikkelinge in hierdie verband. AfriForum het voltydse personeel aangewys om met die eienaars in kontak te bly en om al hul vrae te antwoord.

  1. Berei vir regstrategie voor

Hoe meer inligting ons het, hoe beter kan ons vir ’n regstrategie voorberei. AfriForum is besig om inligting wat vir ’n regstrategie van waarde kan wees by die eienaars in te samel. Terselfdertyd dwing die publisering van hierdie lys en die mediastorm wat as gevolg daarvan ontketen is, die DLOG om in die openbaar hieroor standpunt in te neem. Dit stel ons in staat om beter voor te berei.

  1. Dwing die regering tot duidelikheid

Deur die lys te publiseer het ons as ’t ware die inisiatief uit die DLOG se hande geneem en terug in die eienaars se hande geplaas. Die DLOG is nou in ’n situasie waar hulle gedwing word om in die openbaar hierop te reageer. Hul eerste reaksie was presies wat ons verwag het – om alles bloot te ontken. Dit is egter ’n lynregte teëspraak van alles wat die DLOG vroeër gesê het. Die druk is nou op die DLOG om onsekerheid uit die weg te ruim deur óf ter verklaar dat hierdie inderdaad die finale lys is óf om die finale lys te publiseer – of ten minste om te verklaar dat nie ’n enkele een van die eiendomme wat op hierdie lys is deur die DLOG geteiken sal word nie. Op hierdie stadium is die DLOG nie bereid om so iets toe te gee nie.

  1. Bestuur die emosies

Die vraag kan gevra word of mens nie bloot emosies opjaag deur die lys te publiseer nie. Die teëvraag is of saamspeel met die DLOG se geheimhoudingstrategie nie bloot ’n kunsmatige vrede in stand hou nie. Dit is presies wat die DLOG wil hê. Die feit is dat daar ’n lys is. Die eiendom is volgens die DLOG reeds geïdentifiseer. Nou word hierdie lys gesirkuleer. Die publiek het ’n reg om te weet. Vergelyk dit met ’n moordlys. Die bestaan van die lys word nie betwyfel nie (hoewel die DLOG dit nou skielik ontken). Die onsekerheid is slegs oor wie se name op die lys is. Dit is kunsmatig om te sê dat ons nie paniekerig moet wees nie, omdat ons nie weet wie vermoor gaan word nie (om die vergelyking met ’n moordlys te gebruik). Die feit is dat die regering beplan om onteiening uit te voer. Die beste manier om emosies te bestuur, is om die publiek met soveel as moontlik inligting te bemagtig. Op hierdie wyse sal mense meer ingelig kan wees, en sal daar groter sekerheid kan wees.

Indien jou eiendom op die lys is, kontak AfriForum by www.onteiening.co.za.

Ernst Roets

Ernst is adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ErnstRoets

Similar Posts